25/10/2025
PADSTAL GESLUIT VIR DIE NAWEEK!
Julle, wat gaan aan by Hansie en Grietjie Padstal?? Hulle is baaaie stil, en gister was die deure ook sommer net toe… Moet ons bekommerd wees?
Glad nie! Inteendeel, daar wag ‘n opwindende nuwe hoofstuk! Hier is die storie agter die storie: jou gunsteling padstal is twee aande gelede beroof. Jip, ‘n handvol skermunkels het in die nag ingebreek en ons ‘n klomp materiële skade aangerig. Maar op die ou end bly dit aardse goed, en ons is dankbaar dat ons geliefde span afwesig was en ongedeerd is.
Maar ons weet wat jy d**k: “Nou wat nou?!”
Vir tyd en wyl is ons die naweek eers heeltemal gesluit. Jammer, jy sal moet wag tot volgende week vir jou gebruiklike Sondagmiddagete! Want ons maak weer komende Dinsdag, 28 Oktober, ons deure op ‘n heel ander ligging oop. Jy kan nou dieselfde kos, dieselfde mooi geskenke en plaasvars gasvryheid kry by Hansie & Grietjie 2.0, geleë by Excelsior Weddings and Functions! Dieselfde plaas, dieselfde mense, maar net so 6km aan met die teerpad.
Hier is hoe jy daar kom, as jy nie die venue ken nie: vanaf die padstal, ry aan tot jy op die kruis kom (Gourits na links, Boggomsbaai na regs). Draai links, Gourits se kant toe, en hou aan vir 3km. Ry stadig, want die Hansie & Grietjie bordjie gaan dan by die indraai op linkerkant opkom, saam met Excelsior se plaasbordjie. Volg dié grond-oprit vir so 500m, en dan kom jy by ‘n mooi stel houtdeure skuins regs wat sê “Welkom” – dis waar jy moet wees. Die ingang na die venue (en nuwe padstal) sit langs die grasperk.
Dankie vir jou volgehoue ondersteuning in hierdie snaakse tyd, waarin ons vinnig gaan moet d**k en sommer vinnig ‘n paar veranderinge gaan maak! Is hierdie die onkonvensionele begin van iets heeltemal nuuts en groots vir jou gunsteling padstal? Miskien…
Hou hierdie (nuwe) spasie dop!