11/08/2026
DUSKANT-DI-KOPPI… WAAR DIT REGTIG BEGIN HET.....
Kom ek vat julle vandag bietjie terug in tyd…
Nie net na Dag 1 van Duskant-di-Koppi nie, maar na ’n tyd in my lewe toe ek self nie geweet het hoe om aan te gaan nie.
My moeder het in my arms gesterf.
Daardie oomblik het iets binne-in my gebreek.
Daar is ’n soort seer waarvoor daar nie regtig woorde is nie. ’n Leegte wat niemand kan vul nie. Jy staan die volgende oggend op, die wêreld gaan aan soos altyd… maar jou wêreld is nie meer dieselfde nie.
Ek het aangegaan omdat ’n mens móét aangaan.
Maar binne-in my was ek moeg.
Baie moeg.
Ek het my ma gemis.
Ek het haar stem gemis.
Ek het haar teenwoordigheid gemis.
En ek het myself begin verloor tussen die hartseer en die stilte.
Toe besluit ek op ’n dag om ons stukkie grond buite die dorp te gaan platstap.
Geen plan nie.
Geen groot droom nie.
Geen besigheidsidee nie.
Net ek.
My vellies.
En ’n hart wat seer was.
Ek was nog altyd lief vir die natuur, en daardie dag het ek deur die ruigte geloop — deur die bosse, tussen die bome, oor droë takke en klippe.
Tot ek by die rivierloop uitgekom het.
Daar het ek gaan sit.
En toe kon ek nie meer sterk wees nie.
Ek het met die Here gepraat.
Nie ’n mooi gebed nie.
Nie die regte woorde nie.
Net ’n gebroke vrou wat hulp gevra het.
“HELP MY, HERE…
Hoe gaan ek aan?
Gee my krag.
Vat asseblief hierdie seer weg.
Gee my weer energie.
Gee my iets om voor te leef.
Help my om weer myself te vind.”
Ek weet nie hoe lank ek daar gesit het nie.
Maar ek onthou dat ek op ’n stadium om my begin kyk het.
Regtig kyk.
Ek het die bome gesien.
Die bos.
Die stilte.
Die rivierloop.
Die vrede.
En iewers tussen my trane deur het ek gedink:
Hier is iets.
Ek het nog nie geweet wat nie.
Ek het nog nie ’n naam daarvoor gehad nie.
Maar iets in my het wakker geword.
Daardie aand toe At by die huis kom, vertel ek hom hoe mooi ons stukkie grond eintlik is en dat ek voel ek wil iets daar begin.
Sy antwoord was tipies At:
“Jy kan maak net wat jy wil, my vrou… moet my net nie vir geld vra nie.” 😜
Ek moes lag.
En miskien was daardie lag die eerste klein stukkie van myself wat begin terugkom het.
Ek het dit as ’n uitdaging gevat.
En toe begin ek.
Met amper niks.
Met twee vroue en skoffels het ons begin skoonmaak.
Hierdie foto was DAG 1.
Geen mooi venue nie.
Geen saal nie.
Geen kroeg nie.
Geen funksies nie.
Geen liggies in die bome nie.
Net ruigte.
Grond.
’n Ou murasie.
En ek.
Daardie murasie op die foto…
is vandag ons kroeg.
Wanneer ek nou daarna kyk, raak my keel dik.
Want ek sien nie net wat ons gebou het nie.
Ek sien die vrou wat ek daardie dag was.
Gebroke.
Hartseer.
Moeg.
Verward.
Maar nog steeds daar.
Nog steeds bereid om een tree te gee.
En toe nog een.
En nog een.
Duskant-di-Koppi het nie begin omdat ek ’n venue wou besit nie.
Dit het begin omdat ek iets nodig gehad het om my uit my donkerte uit te trek.
Dit het begin met verlies.
Met trane.
Met ’n gebed langs ’n rivierloop.
Met grond onder my vellies.
En met die Here wat, sonder dat ek dit daardie dag besef het, besig was om my hart stadig weer aanmekaar te sit.
Ek het gedink ek bou ’n plek.
Maar vandag weet ek…
terwyl ek Duskant-di-Koppi gebou het, was die Here besig om my ook weer te bou.
Stukkie vir stukkie.
Dag vir dag.
Trane vir trane.
En dit…
is waar ons storie begin het. 🤎
DAG 1.
Duskant-di-Koppi Duskant-di-Koppi Vriende