05/11/2025
🌿10 maande... 30kg af.
= ’n Nuwe mens! 🌿
Dis nogal vreemd om hierdie te tik, want vir baie jare was gewig iets waarmee ek alleen gesukkel het. Ek was nog altyd op en af – probeer, moed verloor, weer probeer... en niks het regtig gebly nie.
Maar toe ek omtrent 10 maande terug met anemie, ernstige dermprobleme en ñ ton ander goed gediagnoseer is, het ek besef ek kan nie meer so aangaan nie. My liggaam het geskree vir aandag – en ek moes begin luister.
Ek het besluit om dinge radikaal te verander: Skoon eet, elke dag beweeg, en my liggaam begin voed met regte, volwaardige kos en natuurlike medisyne. Geen kitsoplossings, spuite, pilletjies of extreme diëte nie – net liefde en baaaaaie geduld met myself. 💚
Die eerste paar weke was rof, maar stadig maar seker het ek begin beter voel. My energie het teruggekom, my vel het beter gelyk, en vir die eerste keer in jare het ek gevoel ek leef weer!
Nou, 10 maande later, staan ek 30kg ligter – maar dis nie net die gewig wat af is nie. Dis ook skuldgevoel, seer, en die gedagte dat ek dit nie kan doen nie. Ek voel sterker, gesonder, en trots op die mens wat ek besig is om te word.
Dis nie altyd maklik nie, maar dis so die moeite werd. 🌸
As jy ook op daardie punt is waar jy voel dis tyd vir verandering – begin net. Een dag, een maaltyd, een keuse op ’n slag.
Hier’s tot genesing, gesondheid en selfliefde. 🩵